Gedigte
Enkele verteenwoordigende gedigte vanuit die joernaal:
Spes Bona
Spreek u woord vanaf Sionsberg
met digte wolk, die welk getui
van uwe aangesig.
Wie U aanskou: sekerlik sterf;
en tog draai u aangesig,
deur bloed bevlek, na my,
op kruin en kruis by Golgotasberg.
Te helder is u heerlikheid,
en geregtig alle daad
gerig is deur u hand:
geen hoop het ons: verdoemenis.
Maat U’t geboet – gebreek’s die band,
en U dra alle smaad
en verskans U heerlikheid.
Die dag sal kom, dit is beslis,
die koningryk in krag sal kom.
Met bliksems en die donderslae
delg u toorn op daardie dag als
behoudens sulks soos welbehae
koester, met u heerlikheid wat kom
’n erfdeel vir altyd – dit is gewis.
Winskoop
’n Lewe vir Tweerand!
Twee vir vyf!
Wins, wins, winskoop – dames en here!
Veel duurder is appels en pere;
onbekostogbaar: rosyntjies vir die kleintjies!
Stomme esels: hulle swoeg
twee-twee, drie-drie, vier-vier
die bult uit, om Rabiestraat te neem,
terwyl die stank van die Hennopsrivier
aan hulle kleef,
en meng met die stank van sakke vullis op waentjies
agter hulle aangesleep.
(Die son daal: die daag is gedood;
die dag verspeel,
en ’n man in ’n gemakstoel glimlag breed
sodat sy mond teen hulle
wat die stof van die aarde eet, gaan.
Stukke papier word soos krummels gewerp
en hande vol bloed en sweet
tel dit op,
en koop daarmee brood
wat niks voed.)
Surrexit
Ek het ’n waboombos sien brand,
teen berghang steil waar klip en sand
strak geplant is, deur hogere Hand,
en daal diepe dalle aan skadukant.
Vergaan opeens die blare blou
en verswart die stam van grysheid grou
en skroei die wortels wat aan die rots bly klou.
Ja, vuur bespot die awendskou.
Nou ’n geraamte, swart verbrand
op daardie bergserand van rots en sand.
Tog ook gebring deur hogere Hand.
Steeds, vir wat was: powere pand.
’n Jaar en tiental het vergaan
en by die waboom kom ek staan:
in heil wat die Prins betaam
is die waboom, met blare blou, wat staan.
Dood en Blomme
Dit is vreemd hoe die reuk van dood en blomme dikwels meng;
hoe ons vergane verganklikheid met verganklikheid versier.
Want wat is ’n blom: snel te verwelk,
en delg nie die tydloop die herinnering van elk?
Só is die lewe, geweeg elke uur.
u Woord sal bly staan in dae seer verleng.
Verandering
’n Deur van tralies,
by KWV,
laat my dink aan wêreldswee:
Voorheen is drank hier gemaak;
’n restaurant is tans die saak.
Tog steeds vergrendel daardie traliedeur
hier, by die KWV.
Teken in
Ontvang nuus en gedigte