Oor Agur
Wat is die doel van die gedig? Het die digter ’n bepaalde taak? Dit is, natuurlik, vanselfsprekend dat die digter nooit sonder doel dig nie; selfs die eksistensialiste van die middel van die laaste eeu het immer ’n doel voor oë gehad, al was dit bloot om die mensdom van sy beweerde doelloosheid te herinner. Hier word liefs na die digter se plek in die maatskaplikheid verwys: watter taak het hy as ’n goeie burger, of orgaan van die maatskappy?
Die begrip van die digterlike taak of funksie, veral maatskaplik geag, bied ’n groter uitdaging by uitleg daarvan as wat aanvanklik verwag sou word. Wanneer ons onse gedagtes laat gaan, is die eerste beeld wat ons snel tegemoet kom die begrip van ‘die digter as funksionaris.' Hierdie tipe van digter vind duidelikste uitdrukking in die ou U.S.S.R, óf welk ook hedendaagse gelykluidendheid daar mag bestaan: hy is bloot die orakel te Delphi wat getaak is die stem van die heersende moondhede in hoorbare en aangename taal te omskep, en tot uitdrukking te gee. Hier is sy taak baie duidelik bepaald; egter, só beskou, is sensuur dan nie inkorting van sy taak nie, maar liewers bloot die riglyne waarvolgens hy verplig is om sy funksie uit te voer. In daardie wyse verskil die U.S.S.R-digter maar kwansuis min van die burokraat by Departement Binnelandse sake; beide tree binne die mandaat van ’n magtiginge bepaling op (als is die een uitdruklik, en die ander per veronderstelling), en, sou daardie bepaling oorskry word, sal beide se handelinge ultra vires en ongeldig wees.
Dit is wel onwaarskynlik dat die deursnee mens van ons sogenaamde liberalistiese samelewing tot die aanvaring van súlke taak en funksie geneë sal wees – en tereg so. Dit moet die digter vrystaan om te skryf; nie om bloot ‘die stem’ te laat spreek nie. Kan dit dan daarom nie die digter se taak wees om sodanige inperking en inkorting van sy funksie teen te staan nie? Hiermee word bedoel, is dit die digter se taak om hom teen die maatskaplikheid te wend ten einde die bevryding daarvan? Die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse digkuns het ’n ryke erfenis van beide van die bogenoemde verskynsels, en die beproewing wat die tydsverloop daarstel, bewys vir ons dat die werk van Breyten Breytenbach liefs dié van die onnoembare Eugene Naudé van groter waarde was en is. Wanneer die digter teen die wesenlike ongeregtigheid van die maatskappy uitgaan, verrig die hy beslis ’n belangrike funksie, en voltooi hy ’n broodnodige taak: die skrywer tree as ’n stem vir geregtigheid ter midde van ongeregtigheid op; as die melodie van orde ter midde van wanorde.
Daar is egter wél ’n probleem met hierdie beskouing van die digter se taak en funksie: dit hang hom steeds op die kapstok, as ’t ware, deur om hom na ’n blote reaksionaris te beperk. Ál wat hy sodanig dan kan sê is “Sis, nie só nie!” Op ’n dieper vlak, is hierdie onses insiens, byna dieselfde (indien nie dieselfde) kwaal as wat die U.S.S.R-digter in gevange hou: die reaksionêre digter speel net soveel die orakel soos die voorwerp van sy teenstand; sy moondhede is egter net anders. Hier moet besonders liggeloop word: dit word nie voorgehou dat alle digters wat hulself téén die maatskappy werp reaksionêr is nie (meer hieroor later); liewers, word dit voorgelê dat die digter wat bloot en alleenlik teen die status quo optree, onder bevel van ’n ander en uiteenlopende mag optree; hy is steeds ‘burokraties;' sy ‘staat’ is net die ‘vyand’ van die ander. U sien, hy is kampvegter vir ’n ander maatskaplike orde - welk orde sy eie lys aanvaarbare en onaanvaarbare woorde voorskryf.
’n Oomblik se nadenke sal aantoon dat die reaksionêre digter net soveel onder sensuur as sy U.S.S.R-burokraat teenpool staan: al is daar geen man met ’n AK47 wat ter geleentheid van die verkeerde vers by sy deur gaan kom klop nie, is hy steeds ten strengste en volslae teen die weerspreking van sy moondhede (vryheid, demokrasie, liberaliteit, inklusiwiteit, konserwatisme, tradisievasheid – welk ook dit nou mag wees) verbied. Die inperking is selfs strawwer vir hom as sy teenkanting: waar laasgenoemde altyd ‘teen die stelsel’ van rebelleer, en met ope arms deur die opposisie verwelkom word, vind die opposisiedigter wat hom teen beide die maatskappy en die teenstander wend, geen sulke ondersteuning nie. Hierdie, dit word voorgelê, sluit veral pertinent by die huidige toedrag van sake in ons land aan. Waar gister se digters (almal van Pannevis tot by Walters) slegs onder die sensuur van die heersende maatskappy gestaan het, is daar nie tans geen enkele moondheid wat hierdie 'aanvaarbare digterlike funksie' poog af te dwing nie, maar soveel moondhede soos wat daar oortuiginge is. U, byvoorbeeld, mag dalk konserwatief wees, maar sodra u hipoteties iets tengunste van grondonteiening sou sê, word u as ’n liberaal, ’n EFF-ondersteuner en demokraat uitgeskel. (Natuurlik is hierdie ’n simptoom van ’n onderliggende ongesteldheid, maar dit is buite die bestek van hierdie rede.) Vandag se digter (ek durf ook sê veral vandag se Afrikaanse digter) word gedwing om kant te kies, en met knikkende kop soos ’n lappop alles wat ‘ons kant’ sê, te beaam.
Nietemin, is hierdie stand van sake in ’n sekere sin voordelig, aangesien ons verplig word om met groter noukeurigheid die ‘funksie’ van die digter vas te stel. Die digter moet nie weergee wat gebeur nie – hy moet poog om profeties op te tree. Stel dit anders: die digter is nie besorg oor wat van die werklikheid gesien word nie; hy is besorg oor wat die werklikheid is. Elliot gee vir ons ’n wegspringpunt: “I, Teiresias [wie blind is] have foresuffered all enacted upon this same divan.” Die digter behoort nie soveel aan hierdie wêreld nie, as aan die een wat kom. Die uitdaging is dat hy met die stof van hierdie wêreld noodwendigerwys te werke moet gaan. Dit is sy taak om iets van die ewige in die hoogs verganklike en tydelike vas te vang, sodat ander mense, wat in daardie tydelikheid en verganklikheid hul bestaan voer, ook iets van die ewige kan sien. Homeros is vir ’n rede blind.
Die digter se amp, dan, is nie in ’n pluralisme gewortel nie, maar in ’n standvastige en heldere verstaan van die werklikheid – dit is, van God en Sy Woord. By beide Milton en Totius kom die gedagte van die blinde siener wat die allerheiligste aanskou het, na vore. Soos Moses wat vanaf die berg afgekom het, skyn die digter wat hom van sy taak en las kwyt – dit is, om te sien, en om te vertel wat hy gesien het. Die Teiresias-figuur bring hierdie mooi in ons milieu tuis. Aan hom is ook dan voorsig/profesie bestee; maar ook is hy gestraf deur die wissellewe van ’n man en vrou. In ’n sekere sin, is elke digter in ’n wissellewe vasgevang: eerstens, moet sy bestaan deur die kennis van die waarheid en wysheid deurdrenk wees, maar ook moet hy dit hier binne sy maatskaplikheid kan verkondig; tweedens, sal dit verg dat hy dan in alle omstandighede volledig kan inleef, en hom ten sterkste uitspreek waar enige een van daardie omstandighede ’n skans teen die waarheid rig. U merk dus dat die digter se gedigte dus wel hulself duidelik en sonder voorbehoud teen die maatskappy in selfs ’n rewolusionêre styl kan uitspreek; nie omdat hy reageer nie, maar omdat sy verse in die ewigheid van God se openbare Woord gevestig is. Maar u merk ook dan op dat, waar die maatskaplikheid iets edel verrig, dat dit die digter se taak is uit te beeld hoe dit met die waarheid aansluiting vind. Dit, geagte leser, is dus dan die doel van die digter.
Agur se doel, vervolgs, is dus gering: om ’n platform en geleentheid vir sulke digters te bied. Daar word gevolglik nie tot een ‘tipe’ vers gehou nie, liefs tot een standaard, naamlik: eerstens, daardie vers moet iets van die ewige waarheid van God en Sy Woord in die stoflike verskynsels van ons wêreld saamvat, en, tweedens, daardie samevatting en weergewing moet met die nodige vernuf en vakmanskap geskied. Teveel maal wanneer die woord 'Christelik' op 'n bladsy verskyn, is gehalte prysgegee om 'n lompe boodskap te laat pas. Christus is egter ook oor die gedig Heer; alles moet dan van die hoogste gehalte wees. Ons sal egter nie onse eie huldeblyk sing nie: óf ons in ons doel sal slaag sal hoofsaaklik vernuf, toewyding, getrouheid en skerpsinnigheid van ons bydraers afhang; en dit sal in die oë van u die leser, en u die kritikus gemeet word. Dit is dan met trots dat ons Agur aan u voorlê.


Vrae
Wat is Agur?
Agur is 'n Afrikaanse gedigsjoernaal wat oorspronklike gedigte van onafhanklike stemme publiseer.
Hoeveel publikasie sal per jaar uigegee word?
Buitendien enige spesiale publikasies, word daar beoog om drie uitgawes 'n jaar elektronies te publiseer.
Hoeveel kos die Joernaal?
Agur is gratis as 'n PDF wat u vanaf die webtuiste kan aflaai, beskikbaar. U kan ook enkele van ons gedigte aanlyn op ons webtuiste lees.
Hoe kan ek gedigte aflaai?
Kan ek gedigte direk ontvang?
Diegene wat inteken sal gratis elk uitgawe as PDF per e-pos ontvang. U kan inteken onder kontak ons.